Parke en oop ruimtes
Die Vereniging is verantwoordelik vir die instandhouding van byna al die oop ruimtes in die woonbuurt. Hierdie instandhouding was ‘n vereiste deur Swartland Munisipaliteit toe die woonbuurt in 2002 by die munisipaliteit ingelyf is. Die enigste uitsonderings is die oop ruimtes tussen Kareelaan en die R311 – erwe 1613, 1602 en 1582 – wat die munisipaliteit se verantwoordelikheid is (sien ‘geskiedenis‘ en ‘kaart‘).
Die oop ruimtes waarvoor die Vereniging verantwoordelik is sluit die speelparke, oop openbare ruimtes, padrande, wandelpaadjies en stormwaterslote en dreine in. Die gras en onkruid word gesny om die dorp netjies te hou en om brand- en veiligheidsrisiko’s te verminder. Stormwaterslote en dreine word skoon gehou, veral voor die winterreën.
Dit is ‘n groot taak en vereis ‘n toesighouer en drie werkers vir minstens agt dae per maand gemiddeld om al die werk te verrig. Daar is meer werk in die winter wanneer gras en onkruid weliger groei en daar dikwels stormskade aan bome en dreine is. In die somer wanneer die gras minder dikwels gesny hoef te word, word die heinings en speelparktoerusting onderhou. In die praktyk doen die kontrakteurs alles wat nodig is om die woonbuurt in ’n goeie toestand te hou. Soms word ekstra mense in gebring om stormskade of onwettige storting die hoof te bied.
Die kontrakteur se koste sluit in toerusting, uniforms, veiligheidstoerusting, lone (insluitend betaalde verlof en siekteverlof vir werkers), petrol en stortingsfooie. Hulle is verplig om aan toepaslike gesondheids- en veiligheidstandaarde te voldoen en gepaste beskermende toerusting, waarskuwingstekens en verkeerskeëls te gebruik.
As ‘n lid van die Greater Cederberg Fire Protection Association (GCFPA) moet die Vereniging voldoen aan streng vereistes oor die hantering van droë plantegroei wat ‘n brandgevaar kan inhou, dus moet plantmateriaal by die munisipale vaste afval-aflaaistasie gestort word en die nodige fooie moet betaal word
Munisipaliteite hef ’n fooi om organiese materiaal na die stortingsterreine te stuur om mense sodoende te ontmoedig omdat dit skaars ruimte opneem en kweekhuisgasse vrystel. Die Vereniging ondersoek die moontlikheid om sy eie versnippering- en komposfasiliteit op te rig om tuinafval beter te benut.
Verwante bladsye
• Geskiedenis van Ongegund Village
• Kaart van Ongegund Village
