Geskiedenis van Ongegund
Die verhaal van Ongegund, die dorpie, gaan baie ver terug in die verlede. So ver terug as die dae van oom Paul Kruger en die Transvaalse Republiek en die era van Jan Smuts en DF Malan.
In 1888 gee President Paul Kruger toestemming aan Edouard Lippert, ‘n besigheidsman van Hamburg, Duitsland, om ‘n sementfabriek naby Pretoria op te rig. Lippert was nogal ‘n kleurvolle karakter. Hy was onder andere ‘n finansier van die goudmynbedryf by Barberton, die eienaar van ‘n diamantkonsessie in Rhodesië, en had die monopolie vir die vervaardiging van dinamiet in Transvaal in 1892.
Lippert se sementfabriek word in 1896 geregistreer onder die naam ’Eerste Cement Fabrieken Beperkt’ en het so sake gedoen tot en met die uitbreek van die Anglo-Boere-oorlog. Produksie was ontwrig vir die duur van die oorlog, maar is in 1902 weer voortgesit, wel onder die nuwe naam ‘The First Portland Cement Factory Limited’. In 1908 verander die naam weer na die naam wat ons vandag nog ken, die ‘Pretoria Portland Cement Company Limited’, in die volksmond bekend as PPC.
PPC was in 1921 medestigter van die ‘Cape Portland Cement Company’, wat toe slegs die vierde sementfabriek in Suid Afrika by De Hoek, net buite Piketberg, oprig. Aanvraag en produksie het alle verwagtinge oorskry en daar was gou ‘n nypende tekort aan roumateriale. ‘n Ryk neerslag van kalksteen word intussen ontdek op die plaas Ongegund, geboorteplaas van Generaal JC Smuts. Die Cape Portland Cement Company het die plaas in 1946 aangekoop en begin in July 1957 met die oprig van die sementfabriek.
Die eerste draai-oond word in werking gestel in 1960 en ‘n tweede, hoogs-gevorderde draai-oond in 1968. Die groot Engelse konstruksiemaatskappy Wimpey, bouers van die aanleg, begin terselfdertyd bou aan die dorpie Ongegund, net Suid van die plaasbestuurder se huis, vandag bekend as erf 1565. Intussen gaan die boerderybedrywighede onder die leiding van PPC normaal voort op die plaas en die inwoners word onder andere van melk voorsien tot en met 1984.
In 1975 word die Smuts-geboortehuis tot nasionale monument verklaar. Die huis, nog al die jare in stand gehou deur PPC, ondergaan in 1986 ‘n tweejaar-lange volledige restourasieproses. Onder leiding van die befaamde Kaapse argitek Gawie Fagan, word die huis restoureer na sy oorspronklike voorkoms.
Die naam ‘Cape Portland Cement Company’ val weg toe PPC die maatskappy in 1977 ten volle oorneem. Die dorpie Ongegund brei in daardie dekade verder uit toe nog huise gebou word in Waboomstraat en by Voëlvlei. Die naam Voëlvlei kom oënskynlik van die Voëlvleidam af wat bykans hele Swartland vanaf die reservoirs net bokant Ongegund van water voorsien.
Teen die einde van die eeu was sementvervaardiging al hoogs ge-outomatiseerd met ‘n gepaardgaande krimping van die werksmag by PPC Riebeek-Wes. PPC het die algemene praktyk van die tyd gevolg deur nie verder maatskappybehuising aan sy werknemers te verskaf nie. In 2000 begin PPC die proses om die huise in Ongegund aan sy werknemers te verkoop en die woonbuurt oor te dra aan die Munisipaliteit van Swartland.
Dit was ‘n ingewikkelde proses want elke erf moes opgemeet en opgeteken word, asook ‘n titel-akte kry. Daarby sou die Munisipaliteit van Swartland slegs verantwoordelikheid vir die woonbuurt aanvaar as die inwoners instem om die verskeie parke en speelgronde self te bestuur en onderhou. Dit was dus nodig dat ‘n huiseienaarsvereniging gestig word sodat heffings van die inwoners gevorder kon word om die parke te onderhou.
In 2002 het die eerste oordragte van Ongegund-eiendomme plaasgevind. In 2004 word die voormalige PPC Rekreasiesentrum opgeveil, en in 2005 word dit ‘n rugby-instituut. Die rugby-instituut sluit ongelukkig sy deure in Mei 2017 en die sentrum is nou die “St Monica’s Shelter”.
